Humor: Chemiese oorlogvoering in SA.

CHEMIESE OORLOGVOERING IN SUID-AFRIKA..

[Bron: Somerset Morkel se FB blad]muishond
In die vroee 1990’s word ek vroeg een oggend wakker geklop deur een van my veewagte

rs. Hy hou versigtig sy toe gevoude boshoed na my uit.

Toe ek die boshoed oopmaak was daar n baba muishondjie binne in. So het ons avonture met Loopy begin. Sy was te dierbaar. Sy het as een van die gesin groot geword.

‘n Vriendelike, speelerige ou dingetjie. Die Boerboel, Bruno en die Worshond, Chappies was haar grootste maats. Alhoewel baie mense my gewaarsku het oor die muishond se bekendste wapen, het ek oudergewoonte my gat aan hulle afgevee. Loopy het nooit van haar chemiese arsenaal gebruik gemaak nie. Trouens, ek het gedink dat sy al vergeet het dat sy oor so iets beskik het.

‘n Goeie vriend van my, Dirk het een Saterdagmiddag kom kuier. Dirk se grootste liefde was Red Heart Rum, gevolg deur vuurwapens. Hy het ‘n ou haelgeweer, van die tipe wat nog hane gehad het, saamgebring. Ons het op die geelhout riempiesbank op die stoep gesit. Loopy het oudergewoonte op haar kussing bo op die bank rustig gele en slaap. Dirk wou die haelgeweer uittoets met AAA patrone. Ek het hom gekeer en vir hom 2 haelpatrone gegee waarvan die haelkorrels verwyder was. Hy het die geweer gelaai, die hane teruggetrek en die sneller gedruk. Absoluut niks het gebeur nie. Hy het dit drie of vier keer gedoen en die geweer wou nog steeds nie afgaan nie.

Ek het toe die huis ingegaan om vir ons vloeibare verversings te kry. Terwyl ek weg was het Dirk weer die haelgeweer gelaai, die keer met die bokhael patrone. Ons het rustig gesels toe Dirk weer die haelgeweer optel, na die sinkdak mik en die snellers druk.

Die resultaat TOTALE CHAOS. Die feit dat hy die sinkdak moer toe geskiet
het was die minste van ons probleme. Dinge het toe teen ligspoed gebeur.
Loopy het met n weersinswekkende kreet opgestyg, soos ‘n tol in die  rondte gespin en haar chemiese wapen in die oortreffende trap in werking gestel.
Mense, dit was verskriklik. Toe die eerste sarsie my tref,  het ek onwillekeurig oor die stoepmuur geduik en die grond snoet eerste getref.
Bruno die Boerboel het opgespring en tjankend teen die stoepmuur
vasgehardloop. Hy het terselftertyd ‘n reuse aanval van jippoguts gekry.
Chappies, die worshond, het ‘n perfekte pirouette uitgevoer, gevolg deur ‘n agteroor somersault wat hom ‘n goue medalje op enige Olimpiese spele sou laat wen het. Dirk het geskok opgespring, gegly op Bruno se stront, en die sementvloer met n dowwe slag getref. Hy het toe blitsvinnig die trappe afgeseil. Dirk, ek en die twee honde het in n toestand van totale, absolute skok op die grasperk gehergroepeer.

Mense, die persoon wat daardie stank op papier kan bewoord is nog nie
gebore nie. Dit was onbeskryfbaar. Dit het geruik asof elke sweetgaatjie wat jy het in ‘n dooie rot verander het. Ons het bewend van skok en ongeloof op die grasperk gestaan. Trane van verontwaardiging en selfbejammering het oor ons wange gerol. Die honde het so gebewe en geruk dat ek enige oomblik verwag het dat hul gaan beswyk. Hulle was te bang om genoeg asem te skep om te tjank. My vrou het die deur oopgeruk en dadelik weer toegeslaan. Sy het twee oorpakke en ‘n blok seep deur d ie ruit in ons rigting geslinger en ons duidelik in kennis gestel dat ons nie die huis sou betree alvorens ons die stank afgewas het nie. Op daardie stadium het Loopy, met haar kenmerkend oulike draffie, die trappe afgekom om te kom kyk waaroor die bohaai gaan.
Die honde het, vreesbevange en tjankend, stert tussen die bene, koers gekies skaapkraal toe. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek gesien het dat ‘n Boerboel net so vinnig, indien nie vinniger, as ‘n Windhond kon beweeg. Ek en Dirk het met n spoed die Akkerboom bestyg.

Loopy het gelukkig omgedraai en haar middagslapie op die bank gaan vervat. Ons het toe, redelik haastig, na die sinkdam toe beweeg om die stank af te was. Dit was winter in Standerton. Die water was net net bo vriesspunt. Dit het ons geensins gepla nie. Ons het ingeduik en dadelik begin was. Dit het nie baie gehelp nie. Ek dink dat ‘n rioolplaas soos Old Spice deodorant in vergelyking met ons sou geruik het. Die honde, wat redelik skrikkerig was vir water, het instinktief besef, dat indien hulle wou oorleef, ook sou moes bad. Hulle het toe ook in die dam ingespring.

Nadat ons gewas en aangetrek het, wou ons die huis binnegaan. Die Riller, met wie ek op daardie stadium getroud was, het volstrek geweier. James, wat in die tuin gewerk het, het die klerasie wat ons ten tyde van die aanval aangehad het, op ‘n hoop gehark, met diesel deurweek en aan die brand gesteek. Ons het toe maar besluit om in die skeerskuur te gaan slaap.
Gewapen met n sak stronke, n swannie braaier, pak wors en ‘n bottel mampoer het ons onself maar tuisgemaak in die stoor. Dit was ‘n droewige en onvergeetlike nag. As die koue ons nie wakkergehou het nie was dit die stank of die honde se nagmerrie oor die dag se gebeure. Ons het vroeg die volgende oggend weer in die sinkdam gespring. Hierde keer het dit darem gehelp.

Loopy het tot haar afsterwe nooit weer haar chemiese wapentuig benut nie. Ek, Dirk en die honde het haar tot haar einde toe, met nuwe respek, gekoppel met ‘n doodse vrees, bejeen..”

2 responses to “Humor: Chemiese oorlogvoering in SA.

  1. UITSTEKEND- ek sien daardie mans in die bibber koue damwater bad….lol!!

  2. Dit is die beste grap wat ek in my lewe van 75 jaar gehoor het. Wou dit hardop lees vir my vriendin, maar het so gelag ek kon net met stamelinge lees. Dankie.