Humor: Is jy orraait?

Piet was in ‘n motorongeluk. In die hof is die vervoermaatskappy se prokureur besig om hom te ondervra.
“Het jy op die ongelukstoneel, gesê: Ek’s ‘orraait’!” vra die prokureur.
Piet: “Wel, kom ek vertel jou wat gebeur het. Ek het net my gunsteling koei, Bessie, op die sleepwa gelaai en …”
Prokureur val hom in die rede: “Ek vra nie vir detail nie, antwoord net die vraag. Het jy, op die ongelukstoneel gesê: Ek’s ‘orraait’! Ja of nee?”
Piet: “Wel, ek het net vir Bessie op die sleepwa gehad en ek was skaars op die pad …”
Prokureur val hom weer in die rede en sê aan die regter: “Edelagbare, ek probeer net die feit vasstel, dat hierdie man by die ongelukstoneel, aan die verkeersman gesê het dat hy ‘orraait’ is. Nou probeer hy my kliënt dagvaar. Ek glo vas hy is ‘n bedrieër. Sê asseblief vir hom hy moet net die vraag beantwoord.”
Teen hierdie tyd is die regter al redelik geïnteresseerd in Piet se storie oor Bessie, en sê vir die prokureur: “Ek wil graag sy storie oor die koei hoor.”
Ou Piet bedank die regter en gaan voort met sy storie. “Wel, soos ek gesê het, ek het net vir Bessie op die sleepwa gelaai en was op die pad toe daar skielik ‘n vrekgroot trok van die kant af kom, ‘n stopstraat ignoreer en my bakkie en sleepwa binne in hulle dinges in ry. Ek is eenkant toe gegooi in ‘n sloot en Bessie anderkant toe in ‘n ander sloot. Ek was seer, nogal erg seer en wou nie beweeg nie. In elk geval, ek het toe vir Bessie gehoor kerm en ek het geweet sy is in erge pyn, net deur te luister na haar kreune.
“Nou, net na die ongeluk, kom daar ‘n spietkop op die toneel aan en hy het ook Bessie se gekerm gehoor, so hy het toe nader aan haar gegaan.
“Nadat hy na haar gekyk het en die toestand gesien het waarin sy was, het hy sy pistool uitgetrek en haar tussen die oë geskiet.
“Toe kom die spietkop oor die pad na my kant toe, sy pistool nog steeds in sy hand, en hy vra: Is jy ‘orraait’?
“Nou vertel vir my, meneer prokureur, wat de duiwel sou jy vir hom gesê het?”

Comments are closed.