Ons landsituasie – Bid en Doen

Plofbaar; Spannend; Uitdagend; Verskriklik; Skokkend!

Al hierdie byvoeglike naamwoorde pas om ons huidige situasie in ons land te beskryf.  Armoede, werkloosheid en swak dienslewering het begin oorkook na die strate toe en ons is almal geskok om die Xenofobiese haat onder ons eie landsburgers te sien. En ons huidige regering en sy leiers? Meer as een skrywer gebruik die woorde korrup en onbekwaam om hulle te beskryf. Min verwag enige oplossing uit daardie oord. Ons word teleurgestel op so baie terreine: Polisie, Eskom, Regstelsel… ag, noem hulle almal op. Ons ken al daai lysie.

My meer geestelike vriende sê ons gelowiges moet minder kla oor die land en net bid vir die regering en God vertrou vir herlewing.

WAT KAN EN MOET EK AS GELOWIGE DOEN? HOE MOET EK BID?

1 Tim 2 gee die bekende Onderrig oor die gebed
“Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

Nee! Die teks se fokus is nie bid vir die “regering” nie, maar vir “sodat daar goeie regering sal wees waar mense God sal leer ken en in vrede Hom kan dien”.

Daarom is my oortuiging as volg: Ons durf nie kop in die sand steek en net polities korrek “soet” burgers bly nie. Ons moet meer aktiewe DRUK UITOEFEN deur meer betrokke te raak en kundig te kyk na die “politieke gemors” van ons dag. Ons moet meer VRAE VRA, verkeerdhede (korrupsie) openbaar en dit debatteer.

Ef 5: 6 se opdrag is: “Leef as mense van die lig”en v 11: “moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. Hoe, deurdat die lig (LIG!) daarop val. Om korrupsie en onbekwaamheid (onverantwoordelikheid) uit te lig, is iets anders as kla.

Natuurlik moet ons ook DOEN (wat ookal moontlik is om die nood te help verlig), en dan as gelowiges natuurlik ook te BID

Wat moet ons BID? dat God die regering sal help om reg te regeer, of om hulle te vervang as dit nodig is. Dis waarvoor ek bid. Wat dink jy?

As jy belangstel, lees gerus die FB-Post en kommentaar daaroor op  https://www.facebook.com/vischris1/posts/10153290545407650

Comments are closed.