Rugoperasie: Lewenslesse en Humorervarings No 2

Sommer gedink om te begin met die vraag: Waarom die operasie? Wat het aanleiding gegee?

Die probleem het reeds op hoërskool begin. “Bok-Bok staan styf, hoeveel vingers op jou lyf” Daar het ek “sterk” probeer wees, maar hulle het my plat gespring, en so my eerste rugbesering in st 8, ‘n kraak wat nooit weer genees het nie.

Daarna rugby ens. , maar dalk was die grootste oorsaak: Toe ek begin draf het. Baie kilometers, baie maratons, twee comrades, maar boweal, baie kilometers se oefen sonder om ooit ordentlik op te warm, te strek of ooit baie aandag aan rug- en maagoefeninge te gee. (gedink dis net die ouens wat wil spog wat so met gewigte en in die Gym oefen).  En… Comrades beteken mos: mens laat jou nie afsit deur ‘n ou pyntjie nie; Jy hardloop daardeur!

In elk geval, so is my rugwerwels finaal opgevoeter. Maar ek sou eers ophou draf toe dit te laat was. Aai!

My eerste MR-scan het gewys… een of ander tyd gaan dit vorentoe lol, maar dokter het “konserwatiewe behandeling” voorgestel. Wel, baie oefeninge, fisio, en vier DBC-behandelings (elke keer 6 weke se biokinetiese en fisio-behandelings, voorgestel deur die mediese fondse)… op die oue einde die probleem net uitgestel. Intussen het ek jare laas gedraf; wel gereeld bly stap.

En toe die hael en reënbui! Verlede November, toe ek so twee kilometer van die huis af is, toe oorval dit my. Ek draf toe vir die eerste keer weer, hoë-spoed huistoe; te lekker! Maar daarna begin dit ernstig lol. Albei kante se dyspiere bly seer en ek stap nie meer gemaklik nie; en dit word nie beter nie.
Wel, die MR-scan wys toe…
(volgens twee baie knap dokters) MR1my werwelkolom en senuwee kanale is vernou en die werwel-diskusse word uitgedruk. Geen oefeninge of behandeling gaan dit verbeter nie. ‘n Operasie nou, of later, maar ek word intussen nie jonger nie.

Volgende keer wys ek wat die operasie behels het.

Nasorg: Drie maande op my rug; wel staan of loop as ek later kan.

Dankie Vader, byna 6 weke is al verby. Ek stap ook al redelik ver elke dag.

2 responses to “Rugoperasie: Lewenslesse en Humorervarings No 2

  1. Justus Potgieter

    Sterkte Chris!

  2. Dankie dat jy jou storie deel. My seun het amper ‘n soortgelyke ervaring gehad, maar het nog nie tot by die operasie gevorder. Ons hoop nie dis nodig. STERKTE, man!