Help werkers om Siriese vlugtelinge te help

Sy liefde by Café Mercy

Ons, Danie en Esther van Niekerk, leef en werk in Skopje, Masedonië waar ons graag ‘n verskil in ons plaaslike gemeenskap wil maak. Ons is verbonde aan World Outreach International (WOI), ‘n welbekende organisasie binne Suid Afrika, Afrika en Asië.  WOI is in 1932 in Oos-Europa gestig om die vlugtelinge vanuit Oos Europa gedurende die Groot Depressie te bedien. Na 83 jaar van wêreldwye bediening, het WOI (deur ons bediening) teruggekeer na hul wortels hier in Masedonië.

Gedurende die afgelope maande  het die internasionale en plaaslike geloofsorganisasies in Masedonië besef dat ‘n gesamentlike poging nodig is om meer effektief aan die behoeftes van die duisende vlugtelinge wat hier by ons voordeur verbystroom aandag te gee en daarom het die Macedonian Volunteer Network (MVN) tot stand gekom.  Ons fokus is die Tabanovce treinstasie wat teen die noordelike Masedoniese grens met Serbië geleë is, ongeveer 45km noord van Skopje.  Ons doel is om om te sien na die emosionele, liggaamlike en spirituele behoeftes van die ongeveer 6,600 vlugtelinge wat daagliks arriveer deur hulle met liefde en deernis in die krisis by te staan.

Ons het Café Mercy op die treinstasie opgerig en dit bied ‘n plek aan vlugtelinge om te kan stop en rus.  In samewerking met die Rooikruis word o.a. tee en koffie vir die volwassenes, vrugtesap vir kinders en melk vir babas gegee.  Ons poog om voedsel- en nie-voedselbystand te verleen aan families op reis.  ‘n Groot uitdaging is byvoorbeeld om te poog om hul warm en droog te hou in die gure Europese winter wat om die draai is.

Lees al die inligting hier.

Vrywilligers se hulp gevra:

Die evangeliese gemeenskap in Skopje is baie klein en ons vind dit toenemend moeilik om te voldoen aan die ontsaglike eise van die taak wat ons opgelê is.  Hierdie is ‘n noodroep aan die Kerk om aan die roepstem gehoor te gee om na Masedonië te kom en te help deur langs ons te kom staan deur middel van finansiële bystand en korttermyn vrywilligers te stuur.  Die hulpbronne wat ons tot dusver vir die werk aangewend het, het hoofsaaklik uit ons eie fondse gekom. Met die yskoue winter wat al hoe meer toeslaan, besef ons dat die nood al hoe groter word. Help ons om Christus se hande en voete te wees!

Om ons taak effektief te doen, versoek ons die volgende:

  • Arabies, Urdu en Farsi-sprekende personeel (vrywilligers of betaalde plaaslike inwoners)
  • 40 Vrywilligers – geen mense = geen betrokkenheid =  geen suksesvolle projek nie
  • Voertuig – om bestaande en nuwe vrywilligers/inwoners te vervoer na/van Skopje – €12,000
  • Paneelwa – om goedere en voedsel te vervoer en veilig te bewaar – €3,000
  • Fondse – om Cafe Mercy vir 4 maande aan te vul en te bedryf – €17,500
  • Ander fondse – Vervoer, toerusting, nie-voedsel items – €7,000

Vrywilligers moet hul eie vervoer-, visum- en verblyfkoste betaal.  Skenkings word gerig aan World Outreach Donation met die “order note” dat die fondse vir Macedonia Volunteer Network (MVN) bedoel is. Vir donasies dmv bank depositos kliek hier WOI depositos  Neem kennis dat alle donasies direk aan die versorging van vlugtelinge gaan.  Die fondse word nie aangewend vir administrasiekoste, oorhoofse kostes of ons eie persoonlike uitgawes nie.

https://world-outreach.com/blessing-centre/syrian-refugee-crisis-appeal/

Comments are closed.