Wat om nou te bid vir Suid-Afrika.

Wat om nou te bid vir Suid-Afrika.

Ons is tans op besoek in die VSA. Dis asof mens skielik bietjie meer afstand kry oor ons land se situasie. Die nuus wat ons kry is reeds 8 ure oud (die tydsone is nogal ’n belewenis; as ons die aande gaan slaap, stuur my vriend uit die Filippyne vir my sy môre-gebed vir die nuwe dag – met môre-oggend se datum).

Behalwe die Zuma-fiasko waarin hy ons land dompel, hoor ons ook slegte nuus van ons kinders daar (Ons skoonseun was in ’n motorongeluk, motor sleg beskadig en 2e motor ook stukkend)… en die slegte is… ons kan van hier niks doen behalwe BID nie.

WAT BID ‘N MENS DAN VIR ONS LAND?

Ek besin in my stiltetyd weer oor GEBED en hoe om vir mens se geliefdes (en die regering) te bid. Geen gebed gee beter riglyne as die modelgebed van ons Here Jesus nie. (Mat 6:9-10)

“So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is,

  • laat u Naam geheilig word;
  • laat u koninkryk kom;
  • laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

Dit gaan altyd en allereers om Ons Vader en nie om ons nie.

Dit gaan om sy Naam, sy heiligheid en eer wat op die spel is boweal.

Dit gaan om die koms en herstel van sy koninkryk in ons siek gemeenskap, ons land en die wêreld met al sy uitdagings van armoede, haat en geweld.

Dit gaan om sy wil op aarde te doen en daarvoor te stry volgens God se hemelse model.

[Lees gerus weer die res van die gebed stadig en betekenisvol in jou Bybel]

Kom ons bid volgens hierdie riglyn vir ons geliefdes en vir ons land … met die erkenning aan Hom, want …. “aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

En hoe bid ons veral vir ons leiers in SA asook die res van die wêreld?

1 Tim 2:1-4 gee duidelike onderrig oor die gebed daarvoor…

“Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.

So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

Lees gerus die hele hoofstuk vir jouself.

3 responses to “Wat om nou te bid vir Suid-Afrika.

  1. Stem saam met Petrus.
    Ons moet egter ook bid vir die morele krisis in die kerk, oftewel die immorele krisis in die kerk, dat gelowiges sal opstaan teen die verderflike & God-onterende besluite wat deur liberale kerkleiers geneem word.
    Dit geld meer so as om vir ‘n politieke oplossing te bid.
    Dalk moet mens bid dat hulle ook sal val.

  2. Dankie Chris!! Sterkte met kinders se krisis, ons bid saam.

  3. PETRUS MOOLMAN

    Natuurlik is die Bybelse riglyne soos hierbo daar en waar. Ek dink egter dat ons ook konkreet saam met Biskop Tutu begin bid vir die val van die ANC soos hy gebid het vir die val van Apartheid (sy eie woorde as waarskuwing aan die ANC). Dis die enigste manier waarop SA van die gekheid wat tans heers bevry sal word, want hierdie spul gaan SA verseker vernietig! Niks wat hulle doen, besluit of sê maak vir my meer sin nie. Nommer Een het ‘n veilige net rondom homself gebou. Selfs al gaan hy, bly daar genoeg dissipels oor wat hulle eie belang gaan bevorder en niks gaan verander nie. Wat my die meeste ontstel is dat hulle dink almal in SA in onnosel. Kyk maar na Nommer Een se patetiese verduideliking vanoggend … jy sal dit oor 8 ure hê