Liewe Sendeling…

Liewe Sendeling,
Ek lees jou nuusbrief en verstaan presies waarvan jy skryf.
Ja, die ewige tekort aan fondse. En jy wil so graag meer doen, maar die ewige blok aan die been.
Ek stoei ook elke dag daarmee. Veral as die motor en die wasmasjien gelyk breek en ’n voortand skielik afbreek… en … en.. Jy weet mos.
Dus het ek baie begrip en meegevoel.
Wat kan mens anders sê as…
Vriend, hou moed en bly vertrou die Here. Dit werk gewoonlik op een of ander manier altyd uit. (Mat 6:33)

Maar… ek skryf eintlik met ’n spesifieke rede vir jou.
Ek is besig om nuut te wil dink aan “tentmakerbediening” en hoe sendelinge vir hulle self (nee , die Koninkryk van Jesus) op nuwe weë moet en kan finansier.
Ek glo net nie in die bakhand-vra houding van sommige ouens nie. Dis net nie vir my tot eer van die Koning wat ons dien nie.

Wat dink jy van die volgende voorstel?
Gebruik jou ervaring en Sterkpunte en werf ’n ekstra inkomste, wat terselfdertyd ook ’n wonderlike getuienisgeleentheid kan wees.
Hoe? Jy is wel kundig en bekend en ervare met… byvoorbeeld die M-mense.
(L.W. “M” kan staan vir enigiets waarmee jy lank al ‘n pad stap…)

Wat daarvan as jy jou aktief bemark as motiveringspreker/opleier van personeel/ Marktendense ontleder (noem dit wat jy wil) om Maatskappye se personeel daaroor toe te lig, sodat hulle die M-uitdaging wat reeds toenemend bestaan en vorentoe net gaan toeneem, in ’n kort sessie (of ’n dag seminaar) toe te rus ens.

Bid daaroor en doen wat die Here op jou pad bring!

Kollega Sendeling, As jy tyd kry, laat my bietjie weet wat jy daarvan dink en watter alternatiewe voorstelle en beginsels jy aan kan dink.

Koninkryksgroete,
Chris Visser

Comments are closed.